Nuus  •  3 Oktober 2026

Elders Flight 2026, ’n dag waarop drome vlerke gekry het

Harties FM was ongelooflik bevoorreg om deel te wees van ’n besonderse dag by Wonderboom Nasionale Lughawe, waar meer as 500 senior burgers die geleentheid gekry het om die wêreld vir ’n oomblik vanuit ’n heel ander perspektief te beleef.

Foto Krediet: Dihan Meyer – Harties FM     03 Okt 2026 

Op Saterdag 3 Oktober 2026 het Wonderboom Nasionale Lughawe gegons van vliegtuie, helikopters, musiek, emosie en opgewondenheid toe The Elders’ Flight 2026 senior burgers en militêre veterane vereer het met ’n ervaring wat baie van hulle nooit sal vergeet nie.

Vir sommige was dit selfs hul heel eerste vlug in ’n vliegtuig.

Maar Elders Flight gaan oor veel meer as net vlieg.

Dit gaan oor mense.

Dit gaan oor waardering.

Dit gaan oor ’n generasie wat ’n leeftyd lank families grootgemaak, gemeenskappe help bou, hul land gedien en hul eie verhale geskryf het.

“Vandag is dit julle beurt.”

’n Oggend wat op ’n besonderse wyse begin het

Die program het om 08:00 afgeskop onder leiding van die bekende lugvaartkommentator Brian Emmenis van Capital Sounds.

Ná die Onse Vader het een van die eerste groot oomblikke van die dag gevolg toe Graham Field met ’n reuse Suid Afrikaanse vlag uit die bekende Antonov An 2, oftewel Anushka, gespring het.

Met die landsvlag wat deur die lug gesweef het en die sing van die volkslied wat daarop gevolg het, was die toon vir die dag reeds aangegee.

Dit sou nie bloot ’n lugvaartgeleentheid wees nie. Dit sou ’n viering van mense wees.

’n Optog van noodreaksievoertuie, waaronder dié van Wonderboom Nasionale Lughawe se brandweer, ER24, Fidelity ADT Secufire en die Tshwane Metropolisie, het gevolg voordat die lugvaartprogram behoorlik begin het.

Foto Krediet: Dihan Meyer – Harties FM     03 Okt 2026 

Die lug word lewendig

Besoekers is deur die loop van die dag met ’n indrukwekkende verskeidenheid vliegtuie en lugvertonings bederf.

Die Flying Lions het die lug ingevaar, daar was ’n girokoptervertoning, die onmiskenbare Harvard het sy stem laat hoor, ’n Bell Huey reddingsdemonstrasie het gevolg en kunsvlieëniers het gewys wat moontlik is wanneer mens, masjien en vaardigheid saamwerk.

Toe breek die oomblik aan waarvoor almal gewag het.


Foto krediet: pilotspost.com    03 Okt 2026

Toe breek die oomblik aan waarvoor almal gewag het.

Dit was die senior burgers se beurt om self te vlieg.

Verskeie vastevlerkvliegtuie en helikopters is ingespan, waaronder Slings, RV’s, Cessna Caravans, die Piaggio P.166 Albatross, Bell Jet Rangers, Long Rangers en Hueys.

Teen die einde van die dag het ongeveer 500 senior burgers die geleentheid gekry om te vlieg.

Wanneer hulle weer op vaste grond gestaan het, het hulle dikwels met iets meer as bloot die herinnering aan ’n vlug teruggekeer.

’n Glimlag.

’n Storie.

’n Kosbare herinnering.

En vir sommige, die verwesenliking van ’n droom waarop hulle dekades lank gewag het.

Elke deelnemer het ná die vlug ook hul eie vlerkies ontvang, ’n klein simbool van ’n baie groot ervaring.

Foto Krediet: Dihan Meyer – Harties FM     03 Okt 2026 

Ons militêre veterane word vereer

Die laaste gedeelte van die program is aan Suid Afrika se militêre veterane opgedra.

Met die klank van die Jeppe Boys Pipe Band se doedelsakke langs die rooi tapyt is veterane individueel vereer voordat hulle ook die geleentheid gekry het om die lug in te gaan.

Onder hulle was afgetrede senior lede van die Suid Afrikaanse Lugmag.

Dit was ’n gepaste huldeblyk aan mans en vroue wat oor baie jare diens gelewer het en op hul eie besondere wyse deel van Suid Afrika se geskiedenis geword het.


Die boodskap was eenvoudig, maar kragtig:

Ons sien julle. Ons onthou julle. Ons sê dankie.

Foto Krediet: Dihan Meyer – Harties FM     03 Okt 2026 

Meer as net ’n vlug

The Elders’ Flight is die breinkind van die vlieënier Felix Gosher en het reeds in 2018 by Rand Airport begin.

Wat aanvanklik as ’n besonderse idee begin het, het oor die jare tot ’n merkwaardige beweging gegroei.

Waar ongeveer 100 senior burgers in 2019 gevlieg het, het dié getal later tot 300 gegroei. Tydens die afgelope drie geleenthede het ongeveer 500 deelnemers per geleentheid die kans gekry om die lug in te gaan.

Die 2026 geleentheid was selfs meer besonders omdat dit saamgeval het met Wonderboom Nasionale Lughawe se 90ste bestaansjaar.

Die sukses van ’n dag soos hierdie gebeur natuurlik nie vanself nie.

Agter die vliegtuie en die glimlagte staan ’n enorme netwerk van vlieëniers, vrywilligers, organiseerders, borge, mediese personeel, veiligheidsdienste en ondernemings wat hul tyd, kundigheid, toerusting en hulpbronne beskikbaar stel.

Kos, brandstof, versekering, tente, klanktoerusting, geskenkpakkies, mediese ondersteuning en talle ander elemente moet bymekaargebring word voordat een persoon selfs die grond kan verlaat.

Dit is gemeenskap in aksie.

Foto Krediet: pilotspost.com     03 Okt 2026 

Harties FM was daar

Vir Harties FM was dit ’n ongelooflike voorreg om deel van Elders Flight 2026 te kon wees.

Deur radio kry ons gereeld die geleentheid om mense se stories te vertel, maar daar is dae waarop ’n mens besef dat jy nie bloot ’n storie hoef te vertel nie,  jy kan dit saam met die mense oor wie die storie gaan eerstehands beleef. 

Elders Flight 2026 was presies so ‘n dag.

Om die afwagting op mense se gesigte te sien voordat hulle opstyg, die glimlagte wanneer hulle terugkeer, die families, die veterane, die vlieëniers en die honderde mense wat saamwerk om iets besonders vir iemand anders moontlik te maak, is iets wat moeilik in woorde vasgevang kan word.

Dit het ons opnuut herinner aan dit waarvoor Harties FM so hard werk en voor staan:

Gemeenskap. Omgee. Positiewe stories. En mense wat bereid is om ’n verskil te maak. So uit ons hart uit baie dankie vir elke hand, elke borg en elke persoon wat die dag n verskil gemaak het. EN natuurlik alle eer aan ons Hemelse Vader. 

Ons is opreg dankbaar dat Harties FM deel van hierdie besondere geleentheid kon wees en dat ons kon help om die stories, emosie en gees van die dag met ons luisteraars en gemeenskap te deel.

Aan Felix Gosher en die hele Elders Flight span, elke vlieënier, borg, vrywilliger, diensverskaffer en elke persoon wat agter die skerms gewerk het:

Dankie dat julle nie net vliegtuie die lug ingestuur het nie, maar ook drome saam met hulle laat opstyg het.

En aan elke senior burger en veteraan wat daardie dag hul vlerke gekry het, ons hoop dat julle, wanneer julle weer ’n vliegtuig in die lug sien, vir ’n oomblik sal terugdink aan 3 Oktober 2026, die dag toe die hemel vir ’n klein rukkie aan julle behoort het. Fly, Feed, Love, Inspire!

Harties FM, die Hartklop van Suid Afrika.